Wanneer jy iets vir ‘n groter bedrag verkoop as waarvoor jy dit gekoop het, maak jy ‘n wins. Aan die ander kant, as jy iets teen ‘n laer prys verkoop as waarvoor jy dit gekoop het, maak jy ‘n verlies. Om die persentasie wins van ‘n transaksie te bepaal, kan jy van twee metodes gebruik maak.
In die voorbeeld waar jy ‘n sjokolade vir R10 koop en vir R13 verkoop, kan jy die eerste metode toepas deur die volgende te doen. Bepaal die verskil tussen die nuwe bedrag en die oorspronklike bedrag en deel daardie totaal deur die oorspronklike bedrag. Jy behoort ‘n waarde van 3-tiendes te kry, maar die antwoord is nogsteeds nie ‘n persentasie nie. Aangesien persentasie “uit ‘n 100” beteken, kan jy van ekwivalente breuke gebruik maak en die 3-tiendes verander na 30-honderdstes toe. 30-honderdstes is dieselfde as 30%.
Met die tweede metode moet jy nogsteeds die verskil kry tussen die nuwe bedrag en die oorspronklike bedrag en daardie totaal met die oorspronklike bedrag deel. Maar, om die antwoord in ‘n persentasie te verander moet jy met 100 maal. Dus, wanneer jy ‘n antwoord van 30 kry, moet jy weet dat daardie antwoord nou 30% is.
Om persentasie verlies uit te werk moet jy dieselfde metodes toepas. Maak net seker dat jy die antwoord reg interpreteer. Kyk beslis ook na hierdie video as jy onseker is oor BTW. Hierdie video rakende die basiese kennis van wins, verlies en BTW lê ‘n goeie grondslag en sal jou beslis kan help.